Hestelle se Kitchen Tea { 21/04/2012} | Clouds Estate


Wat n besonderse mooi dag op die Helshoogte Pas | Clouds Estate. Koel en mistig en n uitsig wat in n sprokie behoort. Ek het vir Hestelle gevra om haar gevoelens en ervaring van haar verrassing dag vir my neerteskryf want net SY kan dit in perspektief sit hoe magical dit was. Hier is haar storietjie :) 

“Everytime you smile at someone it is an action of Love, a Gift to that person, a beautiful thing” – Moeder Teresa.

"As ‘n jong dogter is daar ‘n paar daggies in ‘n mens se lewe waaroor jy droom – vir my was dit my Troudag wat voorlê natuurlik, maar ook die spesiale daggie waar my ma, tannies en vriendinne my verras met ‘n Kombuistee.

Ek is oor ‘n verrassing soos wat ek oor ‘n stukkie sjokolade is, ek raak sommer kinderlik gelukkig! – Maar ek dink nie ek is een van die maklikste mense om te verras nie, want ek kry maklik snif in die neus en wel, ek dink ons almal is mos maar nuuskierig wanneer dit kom by presentjies, geheime afsprake of Valentynsdag. – Maar hierdie Kombuistee organiseerders het presies geweet watse taak aan hulle oorgelaat is!

Ek was die oggend van die 21ste April genooi na ‘n ‘brunch’ saam met van my reeds getroude vriendinne, Toinette, Danni, Jeanne-Mari en Gina. Ek, Toinette en Danni het so skyns na 10h vertrek uit die Kaap om in Stellenbosch die ander twee te ontmoet. By die oprit van die pragtige Clouds Estate het ek nog in my onkinde vir Toinette gesê dat hierdie ‘venue’ seker baie goed doen met hul oggend ontbyte as gevolg van heelwat motors wat buite parkeer was – min het ek geweet!

Af met die beeldskone padjie na die saaltjie waar ons toe sou ontbyt eet, verby pragtige outydse meubels, ‘n asemrowende uitsig en trappies wat mens laat voel soos Aspoestertjie se glansoomblik.

Toe ek inloop in die ‘ontbytsaal’ was dit soos daardie snaakse drome wat jy in ‘n restaurant inloop en al die gesigte kyk vir jou – dis toe dat ek besef, maar hierdie gesigte ken ek mos!!

Dis my Kombuistee!!! Jippee!! Ek sien eerste vir die pragtige Celesté raak wat my so skelm afneem om die oomblik vas te vang. Ek soek toe onmiddelik my ma se ogies tussen al die beeldskone vroue wat daar voor my sit, daar agter op die verste tafel sit my jare lange beste vriendin – my ma.

Haar ogies water toe sy my sien en toe ek my weer kom kry toe is my traankraantjie ook oopgedraai. Dit was so spesiaal! My ma het elke detail van my persoonlikheid op hierdie dag vasgevang! Daar was tot tafellyste, pragtige blomme en tafelnommers – georganiseerd en netjies - dis my mams se middelnaam :)

Elke liewe vriendin en tannie wat daar was, was ‘n persoon so na my hart! Vir my het die opwinding al reeds begin die oomblik toe ek al hierdie inspirerende vrouens in een vertrek voor my sien sit, maar die eintlike opwinding het nog vir my gewag. Dit het vir my so baie beteken dat Rozél, my strooimeisie die dag begin het met 'n pragtig gebed en artikel. Na ‘n heerlike vars vrugte, kolwyntjie en warm ontbyt word ek toe aangesê om op ‘n wit bank te gaan sit.

Voor my ‘n stapel – of moet ek eerder sê Krismistafel – vol geskenke!! Elke een spesiaal uitgekies vir my met ‘n fototjie van hul kinderjare of troue sodat ek moet raai van wie die geskenk af kom! Ek het begin deur elke geskenkie sorgvuldig oop te maak – om nou nie enige iemand se mooi geskenk papier op te skeur nie – maar ek het later so opgewonde geraak dat die skeurtegniek maar oorgeneem het.

Bevoorreg en nederig dankbaar om sulke spesiale geskenke te ontvang! Net na ek al die geskenke oopgemaak het – kinderlik gelukkig – het my Strooimeisies Rozél en Linnea my ‘n paar vragies gevra oor hoe goed ek nou eintlik vir Niel ken en dan nog ‘n paar dingetjies wat ek van Niel moes uitken – soos sy oë, neus en knieë. Ek het dit verskriklik geniet!

Dit was vir my so spesiaal om my Ouma ook by my Kombuistee te kon hê, sy is die enigste grootouer wat ek en Niel het. My Ma het ook natuurlik geweet presies wat my smaak in musiek is, want so tussen al die opwinding, geskenke oopmaak, vragies en takies was ons vermaak deur Rozanne wat op haar viool agtergrond musiek gespeel het.

Soos enige dogter se droom kon ek nie in my drome eers dink aan so ‘n spesiale dag saam met die vroue wat so na aan my hart is nie! As ek terug dink aan my Kombuistee dink ek aan die woorde van Moeder Teresa, want daardie dag was vir my gevul met glimlaggies, geskenke en ‘n onbeskryflike goedheid van ons God.

Dit is met soveel Liefde dat ek almal wat deel was en my Kombuistee ongelooflik spesiaal gemaak het wil bedank, want ek was kinderlik verras en bederf met nie net ‘n tafel vol geskenke en tafels inspirerende vroue nie, maar ‘n kamer vol Liefde!

Dankie Mamma*"






















 















 







                                    Hestelle aan haar ma: "Mamma, Hier begin die Melkbekertjie versameling, hehe"


 









 





Share:

1 comment

  1. Ag wowi!! Geluk en liefde straal sommer uit die fototjies!!

    ReplyDelete

© Aglow Photography | All rights reserved.
Blogger Template Crafted by pipdig